Monday, September 30, 2013

Review - Die Naamlose

REVIEW: DIE NAAMLOSE DEUR MARIëL LE ROUX
Synopsis: (Van Tafelberg Publiseerders)


Carli Botha is amper sewe jaar oud toe haar Italiaansgebore moeder, Bella, sterf tydens die geboorte van haar wanskape, breinlose [anensefaliese] boetie. [Dis 'n katkoppie, Baas, het Carli vir Lena, die jarelange huishulp in Grootvlei se plaashuis, by die kraambed hoor se.] Sy word agtergelaat in die sorg van haar dranksugtige pa, Wilhelm Botha, wat haar treiter. Dora, wat ook soms in die plaashuis help, kom bedags tot Carli se redding. Sy was 'n sterk vrou en sy het 'n swaard gehad om oor die baas van Grootvlei se kop te hou. Sy het die plaas se geheime geken reg van oupa Maans se tyd af, en sy sou praat, dit het Wilhelm Botha geweet.

Carli woon op die plaas Grootvlei saam met haar pa, Wilhelm Botha. Haar ma is dood toe sy amper 7 is, met die geboorte van haar misvormde boetie. Haar ma en pa het nie die beste verhouding gehad nie, alles as gevolg van haar pa se ma wat stories fluister in haar pa se oor wat hom laat betwyfel dat sy vrou regtig is wie sy sê sy is. Dit help natuurlik glad nie dat haar ma, Bella, van Italiaanse afkoms is, met donker hare en vreemde gelaatstreke wat glad nie die norm is in die geweste nie. Carli word ook dan met die donker hare gebore en die dat sy gereeld in die son is, brand sy natuurlik ‘n pragtige blas velletjie, wat die tonge verder laat klap.

Met die stormagtige verhouding tussen haar ma en pa is Carli se enigste toevlug wanneer haar pa slaap en sy en haar ma na die rivier toe gaan met ‘n pic nic mandjie en net mekaar se geselskap geniet. Dis dan wanneer haar ma haar vertel van die plek waar sy vandaan kom en hoe sy eendag op ‘n reendag weer vir Carli daarheen wil wegneem.

Wanneer haar ma sterf word sy agtergelaat met haar pa wat nie juis die beste ouer is nie, hy drink gans te veel en begin Carli mishandel, totdat haar getroue huiswerker Lena, haar pa dreig met die waarheid as hy weer sy hande teen Carli lig. Maar dit keer hom nie om te drink nie, wat beteken Carli moet basies vir haarself sorg wanneer dit donker word en Lena na haar eie huis gaan.

Dinge raak bietjie erg en die mense op die dorp begin natuurlik praat, waarna Carli deur die Welsyn weggeneem word van haar pa en op die dorp by die dominee gaan woon. Sy gaan nog naweke huistoe waar sy ‘n geheime romanse begin met een van die plaaswerker kinders wat daar woon. Gerugte loop ook dan hoog wanneer een van die meisies wat saam met haar skool gaan die twee verliefdes uitvang. Haar pa is natuurlik glad nie ingenome met die verwikkelinge nie.

Die stories is werklik pragtig. Soms kry mens dat elke Afrikaanse boek een van twee storielyne in neem, of die van die pragtige jong meisie wat verlief is, seerkry, weg trek en dan op die ou einde tussen twee mans moet kies, of die storie van Apartheid en die geskiedenis van die land en die “struggle” word holrug gery. Die Naamlose is ‘n vars storie wat mens herhinner aan die boeke wat jy op skool in die warm Afrikaanse klas in Matriek gelees het. Nie net het dit my aangegryp nie, maar dit het my geboei om die boek klaar te lees, ek wou so graag wee twat met Carli sou gebeur en of haar pa sy verdiende loon sou kry.

Natuurlik wil ek nie te veel van die storie weggee nie, maar Carli verlaat wel die plaas en gaan met vakansie na die plek waar haar ma vandaan kom, daar waar haar ma haar altyd wou geneem het. Die storie gaan natuurlik verder as dit, maar ek sou dit weggee as ek verder vertel.

Ek kan net verder verklap dat Carli uiteindelik die geheime van die plaas agterkom, en verstaan waarom haar ouma so snedig was en haar ma en pa van mekaar wou verdryf. Ons leer saam met Carli hierdie geheime, en waarom haar oupa later nie meer wou praat nie, en waarom Lena altyd ‘n sagte plekke vir Carli in haar hart gehad het.


Pragtige Afrikaans geskrewe werk, wat ek nie sou omgee om weer te lees, of met vriende te deel nie.

No comments: